Tyd

Daar word altyd gesê tyd is geld, maar tyd is een ding wat geld nie kan koop nie.

Geld kan nie tyd terugdraai, aandraai of laat stilstaan nie.

Een sekonde van kwaad wees, ontneem jou van een sekond om gelukkig te wees. Een sekond wat jy nooit weer kan terugkry nie.

Leef elke sekond. Of jy by die werk, huis of skool is, leef voluit. Wees laf, lag en speel. Neem kiekies van hierdie oomblikke, dis al hoe jy tyd kan vasvang.

Elke dag word vasgevang in herinneringe wat niks of niemand kan wegvat nie, maar wat jy ook nie kan terugkry nie.

Moenie dat geld of dinge jou tyd steel nie!

Advertisements

Hoekom het iemand ‘n “affair”?

Hierdie is iets waarmee ek al n geruime tyd worstel.

Is dit reg om ‘n affair te hê? Nee!

Dit geld vir emosionele en fisiese affairs.

As jy gelukkig is of kom ons stel dit andersom, as jou man/vrou jou gelukkig maak, sal jy dan steeds in ‘n affair betrokke raak?

Jy sit vasgevang in ‘n huwelik wat jou hele wese en al jou waardes afbreek en ewe skielik gee iemand anders jou daardie aandag en dan voor jy jou oë uitvee, het jy ‘n affair.

Wie is dan die skuldige party? Die een wat die affair het of die een wat jou afbreek tot op ‘n punt wat jy ‘n affair het?

Daar is verseker gevalle waar iemand net dood eenvoudig nie lojaal aan een persoon is nie, ongeag goe goed daardie persoon vir hom/haar is. Dit is sonder twyfel verkeerd!

Maar wat van ander gevalle?

Wat dink julle hieroor?

Is daar redes waarom mense betrokke raak in ‘n affair wat die gedrag regverdig? Of bly dit net ongetwyfeld onverskoonbaar?

Ek voel sterk daaroor dat ‘n affair twee kante het en nie noodwendig swart of wit nie.

Wees jonk terwyl jy jonk is

b45de9eb0cb5620a44b7f877d6ab4642Ek sal enige tyd my jong dae oorhê. Ons het soveel onvergeetlike herinneringe gemaak.

Ek onthou in St 1 (ons het nog nie in Grade gewerk nie) was ek smoorverlief op die rooikop, sproetgesig seuntjie. Ons het vir n kort rukkie gekys 😄 dan het hy my in die middae na atletiek op sy fiets gelift huis toe, maar hy het my op die hoek afgelaai sodat niemand ons kan sien nie. Elke middag kon ek nie wag om atletiekoefening by te woon nie (ek het glad nie van atletiek gehou nie en was baie stadig).

Dis sommer een klein dingetjie wat ek onthou en daar is nog so baie. Van braai in die aande op die rugbyveld, toktokkie speel, fietsry tot elfuur in die aand tot knee wat lam word as die eerste rugbyspan oor die skoollierpatrollie stap van die koshuis af😉.

Was ons stout? Verseker

Het ons soms verkeerde goed gedoen? Foute gemaak? Weer Ja. As jy nie foute maak nie sal jy nooit ‘n beter jy kan word nie.

Ons probeer vandag so hard om te keer dat ons kinders seerkry en foute maak, maar eintlik ontneem ons hulle van groei.

Ek het ‘n rukkie gelede ‘n lang gesprek met my dogter, Kyla sy is nou elf, oor my jong dae. Aan die einde het ek die volgende woorde vir haar gesê: Wees jonk my kind, as jy ouer is en gereed is, kry vir jou ‘n kêrel. Hoe gaan jy ooit weet hoe jou man moet wees as jy nooit die velde toets nie. Dis lekker, maar onthou altyd jou waardes en behou die goeie!

Ek kan ure sit en terugdink aan soveel goeie tye as ‘n kind. Soveel keer wat my pa my n ‘snotkopdogtertjie’ genoem het omdat ek ouer wou wees as wat ek is.

Beproef steeds als, maar behou die goeie.

Welkom op my blog

Ek geniet skryf. Ek skryf soms iets en deel dit dan slegs met naby vriende en familie.

My boesemvriendi  is my grootste aanhanger en hou aan sê dat ek my passie in die lewe mis.

Na my laaste stukkie wat ek gedeel het, het my sus voorgestel ek moet my eie blog begin. Nou is ek hier.

Ek hoop om sommer baie nuwe bloggers te ontmoet en ook baie te leer. Dalk net dalk is hier iets op my blog wat vir jou ook iets gaan beteken.

My blog groete vir vandag.

Wees koel op hierdie warm beurtkrag Donderdag.